HOE Sê ‘N MENS?

As kind moes ons baie by ons ouers hoor : “Hoe sê ‘n mens?” wanneer ons vergeet het om “asseblief ‘ of ‘dankie’ te sê. Ek wonder, met respek gesê, hoe dikwels ons liewe Vader ook hierdie woorde wil sê. Want is ons nie maar almal soms skuldig hieraan nie? Ons kom met ons gebedsversoeke na Hom, hou biddae vir reën en ons land wat swaarkry, ens ens. Maar sê ons altyd dankie? Daarom wil ek vanoggend vir ons Vader net baie dankie sê – dankie vir gesondheid, vir vriende en familie en al ons seëninge, wat ons gerus een vir een kan tel – en vir die wonderlike reën wat hier geval het – met die versugting en gebed in ons hart dat die Here die reën sal gee waar dit nog so broodnodig is. Dankie ook vir elke gebed wat Hy antwoord! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God in alle ewigheid. Amen! (Openbaring 7:12)